Partytjiepryse, Hittebrekers en Kosblikwenners

Posted on
kosblik

‘n Aangename herinnering uit my jeug het vanoggend in die stort by my opgekom.  Daai kosblik wat my ma vir my ingepak het in Sub A in die somer in Prins Albert.  In daai klein bruin skooltassie was daar nie veel boeke nie.  Wel ‘n gevriesde reghoekige plastiekbottel – Rooi aanmaak koeldrank – kliphard gevries – toegedraai in ‘n lappie en binne ‘n plastieksakkie binne ‘n tupperware bakkie sodat die res van die tas nie kan nat word nie.  Dis hoe ons die somer getem het in Prins Albert.  Hemel op aarde as jy daai koeligheid pouse uithaal.  Wat het my aan daai kosblikke van honderde jare gelede laat dink?  Die oulike 200ml botteltjies Cederberg gegeurde water wat ons nou in die winkel het.  R3 per botteltjie of R15 vir 6.  Vir die groter kinders is daar 500ml Naartjie, ‘Passion Fruit’ en Litchi vir R4.50 of R4 elk grootmaatprys (koop 24).  Die 1 liter dorslessers kos net R7.50 of R36 vir 6 – Litchi, Naartjie en Tonic Water.  Ons gewone 500ml  ‘Still’ en ‘Sparkling’ waters kos ook net R4.50 en R4 elk as jy 24 koop.  5 liter water vir R15.  Soos dit ‘n goeie verkoopsman betaam, het ek hierdie produkte darem eers self uitgetoets.  Dis iets besonders – Cederberg weet hoe om lekker water te geur.

 
KLOP DIE HITTE MET YOGHURT.  Twee sespakke (6x100g) vir R15.  Dit gebeur nie aldag nie.  R16.50 vir 900g NUTRIDAY yoghurt.  Ek geniet dit soggens gemeng met my graanvlokkies – 500g Nutriday en maak die bakkie vol met ‘corn flakes’ (R29 vir 400g). Meng lekker en begin jou dag lekker koel en volgepomp met PROBIOTIKA.  My ander ontbytgunsteling is die ‘Oatspap’ wat goed is vir my diabetes.  ‘n Lekker klomp bloubessies (heerlike prys by Kookwater) verfris daai pap in die regte rigting.
 
Om op ‘n Saterdagnag te sien hoe ‘n blou kapokhaantjie se stertvere getrek word met 14 manne is my gunsteling tydverdryf.  DANKIE BOKKE.  Ek en my buurman kan darem eerskomende Saterdag weer saam vir en op die Bokke skree.  Die wedstryd teen Italie is ‘n meer beskaafde tyd.  Kookwater is reg met Oom Freddie se Melkterte, Mariette se Koeke, Maaskaas (maak jou eie dip) en DIP en TOP maak heerlike versnaperinge.  Ons gaan daai Spaghetti eters oprol.
 
Dit raak weer tyd om die parkies se swaaie reg te maak en te verf.  Desmond sweis die swaaie vas (boute werk nie – dit word losgeskroef en kry voete).  Elvis en sy maat wat gewoonlik rommel optel langs die paaie word in hierdie tyd opgeroep vir hogere diens.  Hulle verf die swaaie, klimrame en glyplanke.  Drakenstein munisipaliteit voorsien die swaaie en die verf. (Baie dankie) – Ek doen die voor en na – foto’s vir hulle.  Vir die negatiewe ouens in die gemeenskap (daar is altyd die spul wat se – ‘hulle’ sal dit tog net weer breek) het ek goeie nuus.  Sedert ons 3 jaar gelede begin het om op ‘n gereelde basis parkies mooi te maak, is dit goed om te sien dat die speelapparaat baie beter hou.  Daar is natuurlik die gewone slytasie op veral die swaaie, want dis BAIE GEWILD.  Daar is niks so bevredigend as om vroegoggend drie rye kindertjies in hul pajamas by die swaaie te sien om hul beurt af te wag om te swaai nie.  Dis hoekom ons dit doen.  
 
‘n Parkie sonder bome is baie warm en niks lekker nie.  Ons gaan volgende week weer 15 groot bome in die Parkie langs Usave plant.  As iemand dalk ‘n ‘Digger Loader’ het wat ons kan leen om die gate lekker diep te maak, kontak my asb op 084 2334 899.  Die munisipaliteit gee die bome en die kompos vir die gate.  Hulle maak dit ook gereeld nat.  Parkies moet bome en swaaie he.  Ons help graag, want dis lekker.  Ons plant saam met elke boompie wat ons plant ‘n lekker klomp TEDDIEBEER DUBBELE SONNEBLOMME om die buurt mooi te laat blom.  My droom is om Wellington die sonneblom hoofstad van ons land te maak.  Jy kan help deur op jou sypaadjies pragtige sonneblomme te plant.  KOOKWATER SKENK DIT GRATIS.  KOM HAAL NET.  Die Teddiebere, ook bekend as Pom Poms sal jou ryklik beloon.  
 
Mag jou kosblikke blom, mag jou buurt se kinders gesonde kouegoed geniet (yoghurts) en mag jy iets goed doen in jou plaaslike parkie.

POM POM GROETE
Frans Vriesbottel