Shihaam werk in Wellington se Kookwater winkel – gister vir een jaar. Ons is so trots op haar. Wens haar gerus geluk as jy in die winkel kom. Met al die gelukwensinge en feesvieringe laat dit my gister weer terugdink aan my jare by Hugenote H/Skool en spesifiek een Maandag toe Dirkie aftree na 40 jaar diens by Hugenote. Dirkie het vir 40 jaar alles gegee vir Hugenote en sy afskeid moes iets spesiaal wees. Die CSV kry ‘n saalbeurt en die taak om Dirkie te bedank word aan hulle opgedra. Alles is haarfyn uitgewerk. Die voorsitter van die CSV sal open met skriflesing en gebed terwyl die kringleiers die koek met 40 kersies regkry agter die gordyne op die verhoog. Gewoonlik duur so ‘n preek net ‘n minuut of 3, want die kinders is nog nie almal so vaardig om te praat voor 800 kinders nie. Met dit in gedagte besluit die ander kringleiers met die koek om die oomblik toe die voorsitter begin met sy boodskap, te begin om die kersies aan te steek – al 40. Die eerste 10 kersies was maklik. Teen die 20ste kers was daar meer hitte en het al die kersies vinniger begin brand. Teen die tyd dat die 40e kers aangesteek is, was dit een groot vlam.
Die kinkel in die kabel het gekom toe die voorsitter daai dag iets anders probeer het. In plaas van die gewone 2 minute preek het hy daai dag ‘n 10 punt plan gehad wat hy wou preek. Toe hy begin met die 3e punt was die 40 kerse vol in die vlam. Die onderwysers op die verhoog wat die vlamskouspel gadegeslaan het, se oe het al hoe groter geword. ‘n Paar kon al in hul geestesoog sien hoe daai gordyne vlamvat. Die Voorsitter het nie sy 10 punte kon klaarmaak nie. Hy het gestop in die middel van die 4e punt. ‘n Kort gebed later is die vlammende koek aan Dirkie oorhandig en ‘n hele paar kringleiers moes help doodblaas aan die kerse. Dirkie was gelukkig. Almal sal sy afskeid onthou. Ek het later die oggend vir die werkers gevra wat hulle met die koek gemaak het. Hul antwoord: Ons het maar so die ergste kerswas afgebeitel – daai koek was heerlik. Dankie Dirkie vir al die jare diens en vir die lekker herinnering.























