Hier kom ‘n lekker winter. Kookwater is reg daarvoor

Posted on
Arauna Farm

Arauna Farm – Foto Bernus

Dis grasgroen in die Boland.  Die Boland is soos ons hom ken – Hy’t ‘n byt in die oggend en ‘n heerlike dag daarna.  Die wingerde rus en die koring en Canola groei vir die vale.  Doen jou winterbeplanning reg.  Maak seker jy het genoeg bloekomhout vir die kaggel. Dit moenie te droog wees nie, ander brand dit te vinnig uit.  Dis waar Kookwater se BEGINSELS inkom.  Kurkdroe Port Jackson fynhoutjies om daai nat hout ‘n hupstootjie te gee. R16.50 per sak of 3 sakke vir R45.  Ons hersirkuleer die ou kunsmissakke, roei die Port Jacksons uit en haal die frustrasie uit jou nat hout uit.  Drie vir die prys van een.

 

Ons Gazanias daar op Newton se sypaadjie staan nou vol in die blom (as die son skyn).  Ons het ook ‘n paar Varkblomme geplant in die sloot langs die tuin.  As daar dalk iemand is wat kan help met nog ‘n paar varkblombolle en/of plante, sal dit kwaai waardeer word.  Daai sloot is gemaak om te blom.  Ek kry nog daagliks foto’s van Keukenhof se tulptuine daar in Holland.  Dis mond-oophang-mooi.  Dis ‘n inspirasie om te sien hoe omtrent 7 miljoen tulpe bolle elke jaar geplant word om hierdie skouspel te lewer.  Google ‘n bietjie Keukenhof, Lisse – jy kan my later bedank vir die lus vir die oog. Dis tyd dat ons sypaadjies en dorpe so blom.  Moenie dat die negatiewe dinge in die lewe jou keer om mooi goed te doen nie.  Die beeste, bokke en 2 been bokkers kan mens maklik moedeloos maak…..   as jy dit toelaat.    Van blomme gepraat – Ons het pragtige proteas vir jou huis – Naiobi en Carnival. 4 vir R55.  Die ander blomme waarop ek super trots is (want ons is al winkel wat het), is die WATERBLOMME. R85 per kg. Hulle het verlede jaar begin by R120/kg.  Beplan jou naweek rondom ‘n heerlike WATERBLOMMETJIE BREDIE. Dis mos soos winter in die Boland moet proe. 

 

Ons het heerlike Dubbelroom Lancewood Yoghurts ingekry teen R27.50 vir 1kg R14.50 vir 500g.  Heerlike innoverende geure soos Bloubessies en Turkish Delight met Sjokolade Stukkies.  Lipleklekker.

 

DIS KOEKWOENSDAG.  Vir die wat nie weet nie – dit beteken as jy ‘n koek koop, kom jy in aanmerking vir ‘n trekking om nog ‘n koek van dieselfde waarde te wen.  Die koek van die week is SJOKOLADE MOUSSE KOEK – gewoonlik R160, hierdie week net R145.

 

WAT IS DIE TOPVERKOPERS IN KOOKWATER? (kyk bietjie wat is mense mal oor in Kookwater).  In Wellington is BILTONG verreweg die topverkoper.  In al drie winkels is die topverkopers JUMBO EIERS (30 vir R89), Omo Liquid (R15 per liter as jy jou eie bottel bring), Kondensmelk (dit raak nou vinnig min), Stasoft, Jik, Opwasmiddel (R10 per liter), Toebroodjie Ham, Gerookte ham en Pizza Salami (baie hoog op die top 20 lys).  Die groot verkoper – veral met die winter wat voorle is BESKUIT teen R25 per pak en natuurlik Proteas.  Die enigste rede hoekom Kaas en Koeke nie op die top 20 lys is nie, is omdat koeke nie as ‘n geheel opgelui word nie, maar elke koek en elke soort kaas op sy eie moet meeding vir die top posisies.  

 

Blouwillemaandag het Maandag in die Burger vertel van sy vriend wat nou minder gholf speel omdat sy oe nie meer so goed is vanwee die ouderdom nie en hy dus nie so lekker kan sien waar die balletjie land nie.  Sy raad – hy moet sy 97 jarige vriend saamvat.  Die se oe is so goed , hy kan ‘n ding sien soos ‘n arend sonder ‘n bril – Kilometers ver.  So gese so gedaan en die 97 jarige vriend word opgekommandeer.  Met die afslaan slaan die ou die balletjie vreeslik ver.  Hy vra toe die vriend of hy gesien het waar die bal geland het.  Ja, se die ou, hy het duidelik gesien waar hy geland het,  maar hy kan nie onthou waar nie.  Ai.

 

  • Is dit nou nodig om Engels in Edgars te praat? Nou moet mens hoor:  “Kayla tell for mommy, is the shoes pushing u?….
  • Ek het vanoggend ‘n 50c stuk tussen die kussings van my rusbank gedruk, net om te voel hoe dit voel om geld in die bank te he.
  • ‘n Man volg ‘n dogter in die badkamer in – hy reken hy identifiseer as ‘n vrou.   Die man se tanne is uitgeslaan deur die dogter se pa – die reken hy identifiseer as die Tandemuis.
  • EK HET NOU AL MY REKENINGE BETAAL.  Het iemand dalk vir my ‘n lekker resep vir water asseblief?

 

Mag jou waterblommetjiebredie jou stoutste verwagtinge oortref, mag jou Kaggelvuur lekker knetter en Mag die proteas jou huis laat blom.

 

Blommende groete

Frans Kaggel