Party van ons kom van die “As jy ophou huil, koop ek vir jou iets” generasie. Ek kom van die “As jy nie ophou huil nie, sal ek jou iets gee om oor te huil” generasie.
Elke naweek se ek vir myself: “Johanna, jy moet ophou met die drinkery”. Gelukkig is ek nie Johanna nie.
Politici en babadoeke moet gereeld omgeruil word en vir dieselfde rede.
Dis warm in die Karoo – die sweet loop spore in die stof op my gesig. Waterbeperkings is aan die orde van die dag. Die skilpaaie loop uit die veld uit, stap bo-oor die heerlike skilpadkos vetplante wat ons spesiaal vir hulle geplant het en gaan vreet die doringlose turksvye. Die lewe is hard en daar is volop dinge om oor te kla, maar as die koel luggie saans waai en die donderwolke steek op, is die wereld ‘n fees. My wegbreek Prins Albert toe was van korte duur, maar my batterye is gelaai en vol krag. Ons twee Labradors is uit hul velle uit en lekker uitgerus.
Een van die vrae wat ons voortdurend by Kookwater kry is: Het julle lekker kaas? Ek weet nou al dit beteken: Is daar Brie en Bloukaas en lekker goed? Die antwoord op die oomblik is JA of soos my oom Edwin geantwoord het toe die dominee hom op sy troudag gevra het ‘wat is hierop jou antwoord?’ : JA, VAN GANSER HARTE. President Brie R19.50, Creamy Blue Cheese R19.50, 250g LURPACK Botter R45, 400g Gerasperde Gouda R39, Gouda Loaves R115 per kg.
Ons het volop groentes: Tamaties R15 per kg, MIELIES vanaf R15 per bakkie (my gunsteling), Groenboontjies, en pitlose waatlemoene. Die reuse Hubbart Squash daar uit die Nuy Valley teen R40 elk (6kg en meer) is ook beskikbaar in halwes R25 en kwarte R15. Geniet.
Die een ding wat ek mis op Prins Albert, is oom Freddie se lekker dik tradisionele melktert (R120). Vanaand kry ek weer daai.
Die Yoghurts het bietjie opgedroog, maar daar sal weer volop wees Vrydagmiddag (more). Sespakke Parmalat yoghurt R9,90, 1kg Lancewood dubbelroom Yoghurt R22.50 en President Roomkaas R35.
Daar kan dalk nog ‘n klompie verrassings opdaag. Ek haak Vrydagoggend daai sleepwa en gaan maak hom vol. Die Lurpack botter (R45) raak min. Gouspring.
Mag jou dag so salig soos begin soos myne – net ‘n paar bye wat saggies werk in die peperboom. Die twee Labradors wat oor die vlaktes tuur rond die prentjie mooi af. Die Koi visse en Skilpaaie stuur groete uit Prins Albert.
Salige Karoogroete
Frans Karooklong
















