Die lekkerste deel van Kersfees is…

Posted on
Boere kersboom

Kloovenburg se Boere-Kersboom

BAIE GELUK.  KLOP JOUSELF OP DIE SKOUER.  As jy hier lees, weet jy wat die wenresep is.  Jy bederf jou familie met heerlike kwaliteit produkte (by Kookwater) en omdat jy weier om belaglike pryse te betaal, het jy genoeg geld oor vir ‘n heerlik feestyd – tot  die 59ste Januarie.  Kookwater is reg vir jou – Ons het hope smullekker koeke, melkterte, Trifles en soutighede. Man, my suiker klim sommer as ek net verby daai Koekyskas stap.  Dis ‘n fees vir die oog en die smaakkliere.

DIT GAAN NIE SNEEU NIE. Ons is gelukkig reg vir ‘n somerskersfees. Kookwater het iets vir almal:

  • VIR DIE KINDERS:Yoghurt (R9.90 per sespak), sespakke sappies (R33 vir 6), 1 liter SAPPE R14.50. HOPE BLIKKIES KOELDRANK vanaf R5.50.
  • VIR DIE GROOTMENSE: 10 Nespresso Koffiekapsules vir R42.50 – vele sterktes, IRON ENERGY Blikkies – 3 vir R12(Kersvader moet laat wakkerbly), 
  • VIR DIE KOSPOTTE: 500ML VARS ROOM R22.50, JUMBO EIERS R89 vir 30, 400g gesnyde HAM (WAS R48.50) NOU R43.50, 200g Pizza Salami R43.50, VARS KERSIES R45 (om bo op die trifle te sit), 500g PLAIN YOGHURT R12.50,
  • VIR WOEF, KIETS EN DIE OUENS: 100g PEDIGREE SOUS – 3 vir R20, TUNA FOR CATS R13.50.  Die Rossouws se honde en katte IS MAL HIEROOR.
  • LEKKER GESKENK IDEES:  Houtkissies vanaf R35 – maak dit vol lekker goed soos ‘n stuk melktert of oumawange of neute of….,  Pragtige hout Kaasborde R120.
  • GENIET JOU TUIN: Ons het lekker sterk Afrikanerplantjies teen R15 per sespak.  ‘n Heerlike kersgeskenk – plant dit sommer in ‘n houtkissie.

So…. Wat is die lekkerste deel van Kersfees?    Om te GEE.  Kyk in die spieel – die ou/vrou wat terugkyk is BAIE MEER BEVOORREG as die meeste mense in die wereld, in ons land en in ons dorp  Kyk bietjie rondom jou.  Ek wil graag iets met jou deel (ongelukkig alles behalwe ‘n kersverhaal).  Die Wonderwerker wat ons sypaadjietuin in Newton probeer mooi hou ten spyte van die bokke, Geoffley, bly langs ‘n parkie.  In die laaste 4 maande is daar 2 gruwelike moorde gepleeg in die parkie (een ‘n halsnoermoord deur die gemeenskap).  Ons het verlede week die speelapparate gaan verf, damme rondom die bome gemaak en natgemaak.  Ons het rommel opgetel en die Munisipaliteit gaan more die ander rommel optel.  Die kinders in daai gemeenskap verdien beter. Jammer oor die deel, maar dis soms nodig om te weet.  Jy hoef nie al die grusame detail te weet om iets te doen nie.

JY is die een wat die verskil kan maak in jou huis, in jou straat, in jou dorp, wat die eerste tree kan gee. Ja, ek weet “HULLE” verdien dit nie, ‘hulle’ is sleg, ‘hulle’ is lui, hulle is gangstertjies, hulle, hulle , hulle…..  Dit gaan nie oor hulle nie.  Dit gaan oor ons.  Ek sal help, want ek kan, want ek wil.  Ek weet sommer jy sal ook.   DANKIE.

Moenie Woensdag op Kersdag by ons kom kuier nie.  Dis die enigste vakansiedag wat Kookwater BOTTOE is.  Slaap lekker laat Donderdag en kom soek dan weer iets lekker by ons.  Ons is WAWYDOOP van 8 tot 5 op alle vakansiedae en Saterdae (BEHALWE KERSFEES, 25 DESEMBER).

“MA, KOM HAAL MY ASSEBLIEF BY HIERDIE OORSLAAPPLEK. Die kinders is vreeslik raserig en aaklig en hul pa is vatterig.”       ‘Nee’         “HOEKOM NIE?”       ‘Want daai is jou kinders en jou man’

 Moenie van struggle praat as jy nog nooit Weetbix met warm water geeet het nie.  Daai goed proe soos gestrykte kortbroek.

Waar jy ookal die brief lees – op vakansie of tuis soos die uwe, geniet hierdie Kersfees saam met jou geliefdes.  Rus lekker uit, slaap laat, lees ‘n lekker boek, gaan stap bietjie, glimlag vir almal wat jy sien (niemand hou van ‘n suurgat nie), borsel die kat, was die hond, vat blomplantjies vir jou bure of nooi hulle oor vir tee en melktert (onthou daar is 2 vakansiedae). Jy weet nou wat om te doen.  Die lekkerste van Kersfees is om te gee.  Geniet dit.

Kersfeesgroete

Frans HO HO HO van melktert.