Woelige Woensdag uit Prins Albert

Afstandsonderrig. Dis pragtig en rustig op my grootworddorp Prins Albert.  Ek verstom my elke keer hoe ‘n bitter klein dorpie soos Prins Albert se mense so uiters kreatief kan wees. Dit lyk of die voorsitter van die Tuinklub se motto deur almal gevolg word: ” Dit sal net gebeur as iemand dit laat gebeur”.  Ai, as almal in Suid Afrika tog net ophou kritiseer en agteroorsit en wag dat dinge vir hulle gedoen word, sal ons dorpe en land floreer.  Ek was die naweek weereens verstom om te sien dat hier elke 6 maande ‘n ‘Open Studios’ naweek gehou word.  27 kunstenaars op die dorp (waar kom hulle almal vandaan?) maak hul ateljees – of garages oop sodat almal op die dorp en die hope toeriste persoonlike toere deur die studios kan kry.  Enige ding onder die son.  My mond het oopgehang – pragtig.  Hierdie dorpie se mense is elke keer vir my ‘n inspirasie. 

Die werkloosheid op Prins Albert is geweldig hoog.  Armoede floreer en daar is heelparty kinders wat swaarkry.  ‘n Groep werklose vroue het uitgespring en die ‘House of Love’ gestig.  Hulle doel is om klein kindertjies van die strate af te hou.  Hulle het ‘n opvoedkundige speelgroepie vir omtrent 20 kinders tussen 2 en 5 wat tans 2 dae per week vir die kinders kos gee, lees en opvoedkundige speletjies leer.  Ouma Nene – ‘n opgeleide kleuterskoolonderwyseres van diep in haar 70’s is een van die voorvatters.  Hierdie vroue het nie bakhand gaan staan vir geld nie – hulle verkoop elke Saterdag roosterkoeke op die markie om geld in te samel vir die kinders se kos.  As ek ‘n hoed gehad het, het ek dit afgehaal vir hierdie vroue.   

Ek is nie tans op Wellington nie, maar die Woelige Woensdag pryse is wel. 

Vandag laat sak ons die pryse op die volgende:

  • PROTEAS R8 elk  (more weer R10)
  • Olywe R4 per pakkie (more weer R4)
  • Sweet Thai Chilly roomkaas R10.  (gewoonlik R14.50)

Die ander lekker pryse is op die pryslys.  Kom kyk gerus hoe ons verskeidenheid van Jimmy’s souse groei – teen ongehoorde lae pryse.

Dis droog hier, maar mense hou hul koppe op en hou aan planne maak.  Kom maak ‘n bietjie ‘n draai hier vir rustigheid en hope inspirasie.  (kom bly sommer in ons gastehuis vir R250 per persoon per nag.  Jy kry die hele huis vir jouself).

Karoogroete

Francois 

aka die Prins van die Karoo.