Waterblommetjies, Amandelmeel en Bloubessies

Wanneer laas het jy ‘n Waterblommetjiepot gemaak? Dit gaan goed saam met Saterdag se rugby.  Die rugby is mos lekker vroeg.  Dan het jy die res van die middag om fees te vier rondom die pot saam met jou vriende.  Dis darem nie aldag dat ons die All Blacks klop nie.

Teen R45 per kg het Kookwater weereens die goedkoopste kwaliteit waterblommetjies wat jy sal kry.

Vir die rugby moet mens mos darem versnaperinge byderhand he:

  • Kookwater se biltong – R239 per kg
  • ‘n KAASBORD: Mild Mature Cheddar R75 per kg, Gouda R69 per kg, Feta kaas vir die slaai (R29.50 vir 400gr), 5 soorte Roomkaas, Camembert, Brie en Bloukaas (R14.50). Die bloukaas is natuurlik om jou mening met meer gesag bekend te maak.
  • Bloukaas gaan baie lekker saam met ietsie soet – soos ons plaaslik gemaakte makataanstukke – R30  (kan dit wees dat my mond 6 uur in die more water as ek dink aan die lekker soet-sout-smaakkombinasie?  – Seker maar die diabetes wat homself wil laat geld)
  • Bloubessies is ‘n lekker gesonde versnapering – ek vat gereeld ‘n bakkie saam as ek erens heen ry.  Heerlik – R12.50 per bakkie.  As jy nou jou gaste wil bederf en beindruk, maak ‘n bietjie ‘n bloubessietert van ons gevriesde bloubessies R45 per kg.

Ons het weer AMANDELMEEL teen die belaglike prys van R45 per kg.  Dis ‘n groot gunsteling onder die Banting ouens en vrouens, Dis heerlik in glutenvrye produkte en ‘n groot gunsteling vir die hengelaars en selfs vissermanne.  As ek reg gehoor het, is die karp mal oor amandelmeel.  (hoop nie ek het iemand se geheim weggegee nie.)

Man, ek kan nie wag vir die wereldbeker rugby nie.  My bloed is makataangroen.  Die ligte opwarming teen Japan was ‘n lekker lusmakertjie.  Die All Blacks en die Engelse sal mooi lyk as hulle ook lekker opgerol word.

Mag die beste span wen, en mag dit die Bokke wees.

Grasgroengroete

Springbok Rossouw