TAAI MUISE, Neute, kleurvolle tuine, groentetuine

Posted on

Hoe kry mense dit reg om in moeilike tye vooruit te gaan?  As jou besigheid in Vlak 4 inperking, met Fase 3 Beurtkrag in ‘n dubbele resessie, ten spyte van die onluste floreer, dan het jy dit.  Jy weet hoe om te oorwin.  Soos Blouwillemaandag in die Burger se: van die moeilikste dinge om te doen is om stof in jou teenstaander se oe te skop in ‘n swembad, maar Tatjana Schoenmaker het dit reggekry.   

Jy kan nie  in die middel van die pandemie onaangeraak wees deur die duisende mense wat om ons sterf nie, maar jy kan ook nie toelaat dat die vrees jou so beetpak dat jy doodgaan terwyl jy nog lewe nie.   Jy kan nie die oorvol hospitale en die olieprys en die randwisselkoers beheer nie, maar jy kan die rommel rondom jou besigheid/huis optel en blomplantjies op jou sypaadjie plant.  Jy kan die papiere in jou buurt se parkie optel, mense moed inpraat,  ‘n suurlemoen- of pekanneutboom  in elke parkie in minder gegoede woonbuurte plant.  DIS ‘N KEUSE – blom waar jy geplant is of wees die dubbeltjie tussen die ander mooi dinge wat rondom jou gebeur.

Ek  spandeer die week in Prins Albert – doen voorbereiding vir ons matriekklas van ’81 se 40 jaar reunie die naweek.  Dis baie droog, maar die mense en diere van my grootword dorp is TAAI.  Ek heg ‘n paar foto’s aan van die ongelooflike vullisdromme wat kunstenaars in ons dorp versier.  Hierdie is ‘n voorbeeld vir vele dorpe.    Die diere in die veld is ook TAAI.  ‘n Paar maande gelede het hier ‘n lekker bui reen uitgesak wat ‘n oorvloed dubbeltjies tot gevolg gehad het.  Toe ons die besproeiingspype  wil gebruik die week, kom ons agter dat dit taamlik verstop is.  Die oorsaak: bondels dubbeltjies wat deur die muise in die pype ingedra word vir kosvoorraad en nesmaak.  Dis wat ek noem TAAI. Dis nie enige muis wat ‘n nes van dubbeltjies maak nie.  As Prins Albert se muise kan, kan ons ook.  Raak TAAI.

By Kookwater help ons jou om die week kleur in jou tuin en buurt  en jou lewe te kry.  Hier is ‘n paar planne:

  • Al ons plantjies kos R9.50 per sespak of per potjie.  Gesiggies, Viooltjies, Sierkool, Afrikanertjies,  Pietersielie,  Basiliekruid, Koljander,  Blomkool, Kopkool, Bloukool.  Druk ‘n paar pekanneute in die grond en maak ‘n paar sterk boompies om in parke in die dorp te plant (ons het pekanneute in die dop vir R60 per 500gr)
  • Kosblikke is belangrik – Ons het ‘n groot verskeidenheid neute ingekry (natuurlik teen pryse wat nerens geklop word nie).  Dit is heerlik in ‘n kosblik.  VARS BLOUBESSIES is ook ‘n wenner in ‘n kosblik.  Gedroogde Pynappelstukke – R5.50 per 100gr.  sal ook goed afgaan.  Moenie Lancewood se kaassmeer teen R9.50 vergeet nie.

Ons sal bly fokus op die positiewe.  Ons sal ons dorp aanhou mooimaak – EEN PARKIE OP ‘N SLAG  (ons kyk nou al na 5 parkies)

Ons sal aanhou rommel optel op die toegangsroetes na ons dorp.  Ons sal aanhou om ons parkies skoon te hou.  Ons sal aanhou om suurlemoenbome en pekanneutbome in die parkies te plant.  

Ons sal aanhou uitbrei in ons besigheid, want ons glo dis wat positiewe mense doen.  Verskoon maar die gopse en gate rondom Daai Kookwater Biltong in Newton – die staalstrukture sal binnekort verrys.

Mag jou week sonder dubbeltjies wees en as daar dubbeltjies oor jou pad kom, bou ‘n lekker nessie.

Tawwe Groete

Muis Rossouw