Room, Koffie, Beskuit, Koekstruif en BOME

Posted on
grappie

Dis sulke tyd. Nog net ‘n paar slapies dan is dit tyd vir daai lekker rustyd.  Ek kan nie wag vir daai 2 weke by die tuinroete nie – een week in die voortuin en een week in die agtertuin.  Grappies op ‘n stokkie – die sukses le in die beplanning.  Finansiele beplanning is ongelukkig deel van die pakket.  Kom koop jou versnaperinge betyds en vermy die vakansie druktyd.  Neute, Burtons Dry Lemon, Pienk Tonic, Indian Tonic, Soda Water (almal R5 per blikkie).  820g Blikke Perskes en Peer – R15 of R12 elk as jy ‘n boks van 12 koop.  Moenie die straat se KOEKSTRUIF (TRIFLE) vergeet nie.  Bederf die kinders met 3 tweeliter koeldranke (3 vir R25), 3 sespakke YOGHURT vir R29.90. Vars Kersies en bloubessies bring die gesondheid darem ook op die spyskaart.

 
VARS ROOM R16.50, BESKUIT R25 en gemaalde koffiebone vir R45.  Ons het gister ook Nespresso Compatible koffiekapsules ingekry (Mc Cafe) R44.50 vir 10.  250G PIZZARELLA vir R25 gee nog ‘n idee om die kinders besig te hou – maak heerlike pizzas.  BUTRO SPRAY & COOK (R29.90) help met al jou bakwerk.  Beplan die laaste dag by die werk rondom ‘n heerlike KOEKENTEE. Oom Freddie se lekker dik Tradisionele melktert en ‘n Paar van Mariette se koeke moet beslis deel wees van die beplanning.
 
Ons beplan ‘n lekker kersete vir ons bejaardes in Newton op 26 Desember.  Ons benodig mense wat kan help bak en kook.  Is daar nie dalk iemand wat kan help met KOEKSTRUIF (Trifle) vir 50 mense nie? ‘n Paar mense wat elkeen ‘n Koekstruif vir 10 mense kan maak, sal ook help.   Kookwater gee al die bestandele.  Ons benodig ook iemand wat vir ons Gegeurde rys kan  gaarmaak.  Dis klaar gemaak, moet net gaarkom.  Ons gebruik daai 2kg pakke wat ons verkoop vir R39.  Kookwater skenk die bestanddele.  Die enigste beperking, is ons denke.  Komaan – help ons om ‘n lekker ete voor te berei.  
 
Dis die tyd vir gee: JOU TYD.  Die 13 parkies wat ons help mooimaak saam met die Munisipaliteit se swaaie is almal reggemaak.  Die speelplekke is geverf ten spyte van die karakters wat vir Elvis en sy vrou wou seermaak omdat hulle nie die verf vir hulle wou gee nie.  Die 2 nuwe parkies se swaaie wat reggemaak is, trek weer rye kinders.  Dis ‘n fees vir die oog.  In Van Wyksvlei is 63 kragbokse geverf met Avokadokleur verf.  Dis ‘n besondere goeie soort verf.  Ek kry na 2 weke nog steeds nie van die verf van my bene en arms af nie.  Ek moet maar vrede maak daarmee dat ek ‘n wandelende kersboom is.  Van die graffitti op die kragbokse sit al jare daar en mense het al begin aanvaar dat dit so moet wees.  Mense begin anders dink as ons vir hulle vertel dat ‘n mens nie ‘n stuk onooglike kragboks voor jou miljoenrand huis los nie.  Dis verlaag die waarde van jou eiendom OF dit verhoog die waarde van jou eiendom as die buurt mooi lyk. 
 
Vir die negatiewe ouens en vrouens – slegte nuus.  Na 2 weke is daar nog nie ‘n enkele stuk graffitti op die nuutgeverfde kragbokse nie.  Die Nuutgeverfde Joodse geboutjie in die  Wellington begraafplaas het na ‘n maand ook geen graffitti of bende nommers op nie.  Ons hoef nie te aanvaar dat ons dorp beheer word deur bendes en snotkopkindertjies nie.  Maak bietjie jou gemeenskap mooi.  Begin deur papiere op te tel voor jou huis.  Plant mooi sonneblomme in jou tuin.  Plant ‘n boom – plant ‘n avokadopeerpit of tien pekanneutepitte – Kookwater verkoop heerlik pekanneute in die dop wat jy kan plant en eet.  Dis ‘n baie maklike boom om te kweek.  Plant sommer 10.
 
DIE REEN KOM VRYDAG.  Ek het al vergeet hoe lyk reen.  Ek sien uit daarna.  Ek is reg vir die koelte.  Ons het pragtige sterk Afrikanerplantjies (R15 per sespak)  Laat jou sypaadjie blom.  Koop jou sakkie pekanneute en plant ‘n klomp in halwe 2 liter bottels.  Kom kry 20 gratis dubbele sonneblomsade (Pom Poms) by Kookwater.  Gaan groot – beplan jou tuin.  Geniet die reen.
 
Ek’t v’oggend ‘n lelike droom gehad van January maand.  Yohhh mense, ek sien net mieliemeel.
Ek is so lief vir eet, ek raak kwaad as ek vol is.
Ek verstaan ook nie vir Pick ‘n Pay nie…. Jy koop ‘n pakkie Hoender, dan staan daar op “No Name”, asof ek wou gehad het die ding se naam moes Matilda gewees het.
Spar in Brakpan moes al hul melk boksies van die rakke haal.  Die plakker met ‘open here’ moes verander word na “Open at home”
People use ASAP because they can’t spell “imijeatly”
Dink hoe lekker dit sou wees as ons onsself vir 10 minute in die tuimeldroeer kon sit en sonder enige kreukels en drie groottes kleiner kan uitkom. 
 
Geniet jou Kersfees beplanning.  Onthou die enigste beperking is jou idees.  Gaan sit en maak ‘n lysie van lekker goed.  Jy kan dit net sowel geniet.
 
Pekanneutboom Groete
Frans Koekstruif
aka Die ou Groene