Mooi dae, pragtige blomme en ‘n Kookwater Skoolbrief

Posted on

Dis heerlike Lente.  Die wereld blom en die Boland is pragtig.  Ons het die pragtigste Orgidiee ruikers (R95 vir 3 stringe blomme) om iemand se dag en huis mooi te maak.  Die groot probleem met die orgidiee (uit ‘n besigheidsoogpunt) is dat dit vreeslik lank hou – letterlik weke.  Daar is ook heelwat Proteas en die mooiste speldekussings in die winkels.  
Die skole is weer oop vir alle grade en ons moet natuurlik ons deel doen om almal se akademiese dae op te helder.  Ons sal sorg vir die kosblikke, maar ‘n mens moet altyd ‘n plan B he as dinge verkeerd loop met die take ens.  Ek het die mooiste ouerbrief raakgeloop wat ‘n ouer gevra is om te skryf toe Jan Junior se taak nie die sperdatum gehaal het nie.  Ek tik dit sommer oor, want die oorspronklike brief was met die hand geskryf en nie baie duidelik nie:

Beste Juffrou Jeandre

1) Ek tree Pro Bono op namens my klient Jan Hendrik Nel (jr) in hierdie aangeleentheid.

2)Dit is my instruksie om ‘n emosionele pleidooi om strafversagting aan u voor te hou, i.v.m. gebeurtenisse of liewer gebrek aan gebeurtenisse soos hieronder vervat en uiteengesit.

3)Klient erken dat hy op of ongeveer ‘n week gelede in besit geplaas is van ‘n sogenaamde ‘NW pakket’.

4)In weerwil van die vertrouensposisie waarin die klient geplaas is, om met die nodige sorg, toewyding en versigtigheid met die pakket te handel, is hierdie pakket nou weg.

5)Klient is onseker of die verdwyning te wyte is aan eie nalatigheid, Force Majeure, ‘n honger hond of ‘n moontlike kombinasie van voorgenoemde.

6)Klient is geadviseer om nie ‘n verweer te opper dat hy die eindresultaat van die genetiese samestelling van twee persone met twyfelagtige organisatoriese vermoens is nie.

7)Klient aanvaar dus volle verantwoordelikheid vir die verlies.

8)Klient toon opregte berou en ly reeds aan slapelose nagte oor die krag van die departementele swaard wat hom mag tref.  Klient is ook verskeie kere blootgestel aan intensiewe verbale tugtiging met ‘n sterk idiomatiese en dreigende ondertoon van geweld.

9) Klient (of sy ouers) onderneem ook om die vervanging van genoemde pakket uit eie fondse te finansier.

10)Klient pleit dat al bogenoemde faktore oorweging sal geniet by strafoplegging. Klient onderneem ook om binne ‘n week enige agterstallige instruksies in die pakket uit te voer en sy karige intellektuele horisonne op die fakgebied van Natuurwetenskappe, drasties te verbreed.

Geteken op hierdie 1ste dag van September 2020 te plaas Havenga, Middelburg OKaap distrik
……………………………………………………………………..                  …………………………………………………………………..

Adv SJ Nel (regsverteenwoordiger               JH Nel (klient/beskuldigde no.1)

So ‘n brief het ek nie in my jare in die onderwys gesien nie, maar dit sou my erg beindruk het.  Beslis ‘next level’.
Nie almal het ‘n advokaat pa of ma om jou uit die moeilikheid uit te skryf nie, maar almal het ‘n ma of pa wat die kosblik pak om die lewe lekkerder te maak:

  • Steri Stumpies 250ml botteltjies R7.50
  • Laughing Cow kaasdriehoekies R14.50
  • Hand ‘sanitizer’ 3 botteltjies vir R40. (70% alkohol – jel).  Hierdie handige 100ml houertjie pas lekker in jou tas.  Ek sit sommer een in elke voertuig ook.  (Was R19.50 elk)
  • 330ml blikkies Lipton Ystee – (perske, suikervry) R18 vir 6. Dis heerlik
  • 200ml BOS Ystee – Berry, R21 vir 6
  • Bloubessies R15. – Hierdie heerlike soet bessies is my gunsteling kosblikverrassing en ek gaan nie eers skool toe nie.
  • Pringles 42gr R9.90 – ‘Original’ en Kaas.
  • 3 Natures Valley dubbelstafies vir R10.

Van Kosblikke alleen sal ons nie leef nie, so ons sal ander lekkergoed ook moet he.  En ons het:

  • Verskeie 1 liter SAPPE vir R9.90.  5 liter Sap vir R39
  • My lekkerste verrassing die week (vir myself ook) is UIEPLANTJIES – 100 vir R10.  Kom koop sommer ‘n paar honderd en gee dit vir jou tuinman, buurman, huishulp of enigiemand met ‘n stukkie grond.  Dis heerlik om jou eie groente te oes.

Genoeg bemarking.  Mag die heerlike sonnige dae die vrese verdryf en die vreugdes na vore bring.  Komaan, ek hoor al hoe meer van besighede wat alles insit en nie gaan le nie.  Ek bewonder almal wat aanhou planne maak en voortstorm.  As jy nie self kop bo water kan hou nie, gebruik jou kennisse en kontakte soos Jan Jnr.

Positiewe Blomgroete

Willem Ui Rossouw