Kookwater se pryse bly laag

Dag 5 van Lockdown. Tyd kruip.  Ek het 11 keer ge-eet en 5 uiltjies geknip en dis nog steeds vandag.   Daar is baie goed wat by die huis gedoen moet word, waarvoor ek nooit tyd gehad het nie.  Na 5 dae het ek agter gekom dat tyd nie eintlik die rede is waarom die goed nie gedoen is nie.  ‘n Paar goed het wel gebeur.  Die swembad is blou, daai boom wat 6 weke gelede omgewaai het kry nou aandag, Die tuinhekkie is ge-Q20 en die Vinca plantjies wat hulle elke jaar self saai, word nou uitgeplant.


Kookwater gaan ook aan.  Daar is baie besighede wat nie in hierdie tyd adverteer nie, want hulle wil nie mense lok nie.  Kookwater adverteer nie om jou uit die huis te lok nie.  Ons adverteer omdat ons weet dat ons pryse BAIE laer is as ander winkels s’n en dat daar mense is wat hul geld moet rek in hierdie tyd.  Ek weet bv dat ons Hand Sanitizer die goedkoopste is (R30 vir 150ml), dat ons prys nie gaan styg nie en dat ons heelwat voorraad het.  Ons hondekos en katkos is identies aan die groot supermarkte s’n, maar ons prys is amper die helfte van hulle pryse.  (820gr vir R9.90 en 410gr vir R7.50) Bederf jou troeteldiere.

Verskeie van ons verskaffers het hul pryse laat styg.  Ons het eenvoudig geweier om by hulle te koop.  Die plan het gewerk – die pryse het weer gesak.  Dit beteken dat Kookwater se uiters lae verjaarsdagpryse van verlede week kan voortgaan.  Party produkte soos die beskuit is egter uitverkoop –  ek was stomgeslaan, want ons het VREESLIK baie beskuit gehad.  Ons kon egter nog 200 pakke beskuit kry wat Woensdag in die winkel behoort te wees – nog steeds R14.

Dis hartseer om te sien hoe ons protea verskaffer duisende proteas moet weggooi omdat daar eenvoudig geen uitvoermark is nie.  Ons kon ‘n klompie skenk vir instansies in Wellington en het self ook ‘n paar gekoop ter ondersteuning. Kom verfraai jou huis.  Dit lig jou gemoed ook. Venus Proteas R10 per blom en Susara Proteas – 3 vir R20.

Dit het seergemaak om by die kwekery die massas pragtige plantjies te sien wat weggegooi gaan word.  Ons mag kosprodukte verkoop en het besluit om te help.  Blaarslaai – 6pak vir R9.50.  Grasangeliere – eetbare blomme R9.50 per 6pak. Gesiggies (pansies) en Viooltjies (Violas) kos net R15 per sespak.  Natuurlik is die blomme ook eetbaar – dit gee pragtige kleur aan jou slaai.
Kyk gerus na die aangehegde pryslys.  Ek lig net ‘n paar hoogtepunte (of laagtepunte) uit:

  • Pepsi en Pepsi Max  R20 vir 6 blikkies.  NIEMAND KLOP DIT NIE
  • Fruitree en Ceres glasbottels – R36 per sespak.
  • Cafe a la Carte R25.  Gaar maar op – hierdie prys gaan nie hou nie.
  • 5 liter Tamatiesous R28.  Teen minder as R6 per liter, sou mens dink dis nie goeie kwaliteit nie, maar mens sal verkeerd wees.
  • 3 pakkies OLYWE VIR R20. Die voorraad raak min. Ons het minder as 2000 van die 12000 pakkies oor.  Gouspring.  Gaar maar op – die vervaldatum is eers in Julie 2020.
  • Wellingtons Sweet Jalapeno sous R7.50.  Dis laer as weggeeprys.  Gaar op man.

‘n Paar dinge om te onthou in hierdie tyd:

  • Moet asb nie jou familie saambring dorp toe nie – net 1 per familie in die winkel.  Ons wil nie die virus versprei nie.
  • Onthou asb om jou 1,5m afstand te hou – nie net in die winkel nie, maar ook terwyl jy in die ry buite die winkel wag vir jou kans om in te gaan.
  • Hou asseblief jou masker op.  Veral as jy by die huis is, anders vreet jy al jou kos in 3 dae op.
  • My buurman laat weet my vanoggend.  Hy moet vanoggend die vullisdrom uitsit.  Hy is so opgewonde, hy weet nie wat om aan te trek nie.

So gebeur dit dat Hasie en Skilpad mekaar raakloop.  Hasie is nog steeds ‘n bietjie suur oor hy die vorige wedloop verloor het. Hy se vir Skilpad: “Kom ons vat ‘n race, kom ons kyk wie is eerste by die huis”.  Skilpad se dis regso.  Geen probleem.  Hasie se hy gaan sommer die afsitter wees.  Toe Hasie se ‘go’, toe trek Skilpad sy kop en pote by sy dop in en skree:  ‘By die huis”.  Hasie los ‘n paar vloekwoorde na Skilpad se kant toe. Moral of the story:  ‘n Haas se lewensduur is ongeveer 8 jaar.  Daar is skilpaaie wat tot 200 jaar oud kan word.  Hoekom??  Hy bly by sy huis.  Kom ons volg Skilpad se voorbeeld – bly by die huis en leef langer.

Het vandag tuinwerk gedoen, gaan more bietjie afvat.

Groete uit Coronaland (geniet die Queen corona liedjie)
Frans – die gemaskerde sopbeen.