Kookwater RED ONS LAND (en swart vrydag)

Posted on

Ons weet dis eers volgende week Swart Vrydag, maar g’n mens kan so lank wag nie.  Ons gooi sommer solank ‘n paar lekker pryse in net sodat jy nou nie volgende week ‘n spier trek nie. Vir die ouens en vrouens wat nie weet nie – Ons het volgende week vanaf Maandag tot Saterdag elke dag uiters lae pryse op vele produkte.  Maar vat maar solank hierdie week se laes vir ingeval die voorraad opraak.

  • Houtkissies R25 en grotes vir R45.  Ideaal om daai kersgeskenke in te pak.
  • Laaaaang Aartappelskyfies R11.50.  5 geure.  Iets interessants vir die versnaperinge tafel.  Die Pretzels (R12.50) sal ook goed doen.
  • Pragtige Skuimpies (Merinques) vir R15.
  • Vidal Rainbow Belts en Gummy Bears R9.90
  • Godiwa en Lindt Sjokolades R19.50. Niks se ‘Dankie vir die Jaar’ soos Tjoklits nie.

Die feestyd le voor (en die rustyd) en ek weet almal hardloop nou rond soos afkophoenders. So, terwyl jy daar in spitstyd in die verkeer sit, oordink bietjie hierdie wysheid:  HASIES SPRING… en leef omtrent 6 jaar.  HONDE HARDLOOP…. en leef omtrent 15 jaar.  SKILPAAIE DOEN NIKS VINNIG NIE…. en leef 150 jaar. Kry jy die boodskap?

Ek luister Maandag op RSG na Theuns van Bonnievale en wat hulle als gedoen het om die dorp se aansien te verbeter.  Dit het begin by maak die sypaadjies en verkeerssirkels mooi en knap ‘n paar geboue op. Dit het ge-eindig by ‘n vaardigheidsskool vir die kinders van die omgewing wat hulle binne 6 maande gebou het.  Hulle het self 40% van die geld ingesamel en die WKOD het 60% gegee.  Dis mense soos Theuns en sy spanne wat my weer moed gee vir ons land.  Theuns se gedagte wat hy het vir mense wat ook wil help om hul dorpe weer reg te ruk.  ROL JOU MOUE OP.  HOU OP KLA OOR DIE OWERHEDE.  Ons land was al vantevore deur moeilike tye.  Belasting het nog nooit ons land (en dorp) gered nie.  EELTE HET ONS LAND GERED EN SAL ONS DORPE RED.  My raad aan ouens wat altyd vra wat hulle kan doen is net dit:  BEGIN NET.  Kyk wat jou pla en doen iets daaraan.

Baie geluk aan die Moedergemeente van Wellington wat 1000 mense van Wellington op 4 Desember almal in die hoofstraat gaan kosgee.  100 tafels met mense van verskillende agtergronde wat saam eet.  Dit is een van die tipe dinge wat ons land se mense weer bymekaar kan bring (soos die wereldbeker).
Mag jou week vol lekker idees wees van hoe jy ‘n verskil aan ons land kan maak.

Positiewe Groete

EELT Rossouw