Kookwater opkikkeridees

Posted on

Voel jy dalk terneergedruk omdat jy, soos die uwe, tuis moet bly tydens die skoolvakansie?  Daar is 3 maniere om na hierdie penarie te kyk:

  1. Jy kan bly wees, want daar is mense met wie dit slegter gaan as met jou.  Die Protea krieketspan is ‘n goeie voorbeeld.  Voor Saterdag se wedstryd het Skuimkop in die Burger hul situasie mooi opgesom met ‘n kombinasie van beeldspraak en spreekwoorde: Met een voet in die graf en die rug teen die muur, broek op die enkels en hande in die hare.  Foeitog.
  2. Jy kan opofferings maak – soos die vaders van die volk wat ons gedenk het laas Sondag.  Die vaders wat onbaatsugtige ure in die koue en somtyds nat jagveld moet deurbring (terwyl sy gesin knus voor die verwarmer by die huis le) om biltong op die tafel te sit.  Die vaders wat, sonder om te kla, ure voor bloedig warme braaivure moet deurbring om te sorg dat die vleis perfek gaar is.  Die vaders wat wind en weer trotseer langs die viswaters om te sorg dat daar vars vis vir hul gesinne is en die vaders wat hul vroue altyd eerste stel en nooit ‘kopseer’ het nie, ten spyte van die moeilike en harde take wat hulle moet verrig.
  3. Jy kan jouself bederf by Kookwater.  
  • Swartbessies R12.50 per bakkie
  • Die pragtige Venus Proteas het opgedaag.  Teen R10 per blom het jy ‘n sieraad vir omtrent 2 weke (vervang net die water gereeld.)
  • Visvingers van Ocean Harvest (nie daai goedkoop gemaalde, saamgepersde visserigheid nie) R36 vir 16.  Al 12 wat ek die naweek ge-eet het was heerlik.
  • Camembert, Brie, Bloukaas (R14.50) saam met die heerlikste Makataan stukke is iets waarmee ek maklik verlei word. (vir die oningeligtes: Makataan is daai konfytwaatlemoenstukke wat jou maklik voor die waarheids en versoenings kommissies kan laat beland as jy dalk hul ou naam gebruik) My mond water sommer nou hier half 6 in die oggend terwyl ek die nuusbrief skryf.
  • Kookwater se Biltong en Droewors sal jou heerlik bederf.  Ons is nie net die goedkoopste op die dorp nie, maar ook verreweg die lekkerste.

Om op te som:  Dis lekker by die huis. Stook daai kaggel.  Weet jy hoe baie geld jy spaar deur jouself te bederf by jou eie huis?  
Vir die bittereinders wat nog vasbyt en nog steeds hul self bejammer -Kookwater het die prys van ons DIKBEKPILLE laat sak na slegs R19.50 om die gemiddelde ou Knormoer ook beter te laat voel.
Geniet die grasgroen Boland, vat ‘n knertsie teen die koue en gooi los.

Positiewe groete – Vriendelike Frans