Kookwater nuwejaarsvoornemens vir ‘N LAAAANG LEWE

Posted on
voorblad kookwater

Moenie sommer roekelose besluite maak oor nuwejaarsvoornemens maak nie.  Kyk eers na die feite:

  • Die uitvinder van die trapmeul (‘treadmill’) is oorlede in die ouderdom van 54.
  • Die uitvinder van Gimnastiek het 57 jaar gehaal.
  • ‘n Wereld liggaamsboukampioen (bodybuilding)  is op 41 jaar oorlede.
  • Die beste voetbalspeler van alle tye, Diego Maradona is op 60 jaar oorlede.
  • James Fuller Fix, die persoon wat Amerika se fiksheidsrevolusie begin het, deur die sport draf en hardloop gewild te maak, is in die ouderdom van 52 oorlede aan ‘n hartaanval terwyl hy gedraf het.
Dit klink nie goed nie.  Daarinteen is daar die volgende feite:
  • Kolonel Sanders, die KFC uitvinder het 94 jaar oud geword.
  • Die sigaretmaker Charles Winston is op 102 jarige ouderdom oorlede.
  • Die uitvinder van opium is op 116 oorlede (IN ‘N AARDBEWING).
  • Die Hennessey Liquor uitvinder het 98 gehaal.
Hoe het slim mense tot die gevolgtrekking gekom dat oefening jou lewe verleng?  Die haas spring heeltyd op en af en dit leef vir omtrent 2 jaar.  Die skilpad oefen glad nie en leef 400 jaar.  So in 2022 – ontspan, bly kalm, eet, drink en geniet die lewe.
 
Geld is nie alles in die lewe nie, maar dit help.  My gunsteling verduideliking van hierdie feit bly nog steeds: “Dis beter om in Mercedes te huil as op ‘n fiets”  Hierdie 95 dae van Janneworry kan rof raak as jy nie by Kookwater koop nie.  Ons randrekkers en lae prys gemoedskalmeerders is net wat jy nodig het:
  • REUSE KONINGSPROTEAS – 3 vir R35  (gouspring, ons het net 100) Vrolik jou huis (en jou gemoed) op.
  • Pragtige Somersvygies (Portuluccas) R9.50 per sespak.  Dis my soorte blomplantjies hierdie.  Hulle blom pragtig en uitbundig en volgende jaar kom hulle soos hare op ‘n hond op in jou tuin.  Heerlik.  
  • LANGLEWE MELK R9.90 per liter of R58 vir 6.  Dit pas mooi by die tema van die nuusbrief.  Die vervaldatum is 6 Januarie, maar dit sal nog vir maande na die datum reg wees.
  • 850gr Wit Gouda van Parmalat R79.  Hierdie prys sal jou beursie se lewe ook verleng.  Vir die wat nie weet nie, wit Gouda is identies aan Geel Gouda, behalwe dat dit nie geel kleursel in het nie.  Dit is dus meer gesond.  Ons het ook 120gr vakuumverpakte blokkies Gouda vir R9.90 – Die prys het ons jare laas gesien. DIP&CRUNCH 3 vir R30, Laughing Cow Kaasdriehoekies R15, CAMEMBERT R17.50.
  • 3 AVO’S VIR R10, 2 MANGO’S VIR R10, Tamaties R9 per kg, 3X100gr GEDROOGDE PYNAPPEL vir R10,  2 X 1kg glasbottels BEETSLAAI vir R30, 1kg Glasbottel Peppadews R35.  Eet gesond EN LEKKER pappie.
  • SAP: 1 liter R12.50, 24x200ml ‘debranded’ sappies R39, 24x160ml Jabba Juice R39,  24x200ml CERES, Bioes sappies en Lipton ystee R90.
  • Pienk en Blou Tonic Water, Dry Lemon, Ginger Ale, Apple Spitzer, Rock Shandy.  3 x 1 liter vir R20.    4 x 2liter Water vir R10, 2 x 2liter Soda Water en Indian Tonic Water vir R10.
So wat kan jy doen in 2022 om ‘n verskil te maak?  Help ons.  Ons het verlede jaar 10 swaaie in parkies reggemaak (met die hulp van die Drakenstein Munisipaliteit)  Ons het baaaie speelapparate in 5 parkies pragtig geverf en vele kinders se feestyd opgehelder.  Ek sukkel om my tande weer klam te kry (die glimlag is heeldag breed) as ek soggens 8 uur sien hoe die outjies in hulle ‘onesies’ (ek weet nie hoe om dit te spel nie – daai kleurvolle eenstuk koeiprentjie pajamas) aansuiker na die parkie en in rye by die swaaie staan.  So help ons vanjaar.  Ons wil vrugtebome in parkies plant.   Moenie verder lees as jy dadelik dink – ‘hulle sal dit steel en verkoop op die straathoeke”.  So WHAT?.  Ek dink elke parkie moet ‘n lemmetjieboom he, sodat mense gratis lemmetjies kan oes (en verkoop as hulle wil).  Elke parkie moet ‘n Pekanneutboom he.  Dalk ook ‘n Avokadopeer boom.  Kom ons begin vanjaar.  Gaan kyk na die webwerf www.greenpop.org
 
Ondersteun hulle en vra of hulle nie wil help met ons projek om Lemmetjie- en Pekanneutbome in elke parkie in Drakenstein te plant nie.  Bome gee natuurlik ook skaduwee om onder te sit en dan is daar die suurstofding ook.  Hierdie projek is die moeite werd.  Skakel my op 084 2334 899 as jy wil deel word.
 
Mag oom Desmond se jaar (20tutu) die begin van vele lekker dinge wees.  Al die aanduidings is daar.  Die toeriste was weer in groot getalle in die Kaap – die winkelsentrums is weer vol, die flieks het sommer weer baie mense (en lekker flieks).  Bly veilig, kry jou inentings, maar los die vrees en paniek.  
 
Boomgroete (nie die opium-ou se tipe nie)
Opgewonde Frans