Jy weet nooit wanneer jy klaar is nie…

Posted on

Die probleem met niksdoen is dat jy nooit lekker weet wanneer jy klaar is nie.  Dis hard op ‘n mens.  My tuin raak nou mooi groen en vol kleur.  Die grassny met die ‘weedeater’ het my 8 dae gelede omtrent 2 dae in pyn gehad.  (die weedeater is heelwat korter as ek).  Nou staan die gras al weer enkelhoogte.  Ek sien nog 2 dae van pyn aankom.  Die groentetuin is volgeplant, die viooltjies, grasangeliere, bokbaaivygies en ‘foxglove’ op die sypaadjie doen ook goed.  Hier kom ‘n lente VOL BLOMME vir my en die buurt.  Kookwater voorsien mooi.
Met al die harde werk (ek weet sommer jy werk net so hard) en al die pyn het ‘n mens mos ‘n bederfie nodig.  Ek weet van net die regte winkel vir jou.  Kyk bietjie hier:

  • Proteas – Susara en Nairobi 3 vir R20.  (enkele Venus vir R10 elk).
  • Blomplantjies: Gesiggies, Afrikanertjies en viooltjies R9.50 per sespak.  Daar is nog ‘n paar blaarslaaie ook vir jou groentetuin.
  • LINDT sjokolades R25 per ‘slab’ (R48 Elders), R9.50 vir HELLO stafies (R17 elders), Lindt sjokolade eiers 100gr vir R25.  Daar is ook Merci sjokolades vir R25.   Pragtige verpakking – ideaal vir ‘n geskenk.
  • KAAS KAAS KAAS.  Ons het teen die Weggeeprys van R65 per kg die volgende beskikbaar:  Verouderde GOUDA, Verouderde EDAM en Wit Cheddar.  Gerasperde Mozzarella en gerasperde Cheddar in 2kg pakke vir R130.
  • Trail Mix gedroogte vrugtevlokkies. R5.50.  VREK LEKKER.
  • KȆN FROET (Dis nou ingelegde vrugte blikkies.)  Ons het nou weer heerlike peer, perske – R5.50 vir 410gr, R9.50 vir 820gr en R22.50 vir 3kg.  Ons het ook Vrugtekelke (cocktail). R6.50 vir 410gr, R12.50 vir 820gr.  Dis uiters lae pryse – soos altyd.
  • Maskers (virrie virus) R40 vir lapmaskers.  Vir die ouens wat, soos ek, na ‘n uur of 2 moet dwarsdraai om by ‘n dubbeldeur in te kom (my ore raak kwaai bak van daai rek), het ons ook perspex skerms teen R40.  Dis baaaaaiieee beter en beter vir die mense rondom my aangesien ek nogal suur en aggressief raak as die rekke my ore so skaaf.

Die Kwarantyn het maar ‘n taamlike stremming geplaas op party huwelike, maar vir party van ons het dit die huwelik uitermate verryk.  ‘n Wonderlike ervaring.  Ek is gelukkig om die liefdevolste vroutjie te he ten spyte van ons ligte verskilletjies.  Laasnag word ek wakker terwyl my vroutjielief ‘n kussing styf oor my kop hou om my te beskerm teen die Covid 19 virus.  Hoe gelukkig kan ‘n man dan nou wees?
Almal het seker al hierdie seenbede gehoor, maar ek wens jou dit nog steeds toe in hierdie tye van beproewing en liefde:

Mag al jou drome waar word 

Mag al jou vyande naar word en

Mag jou beursie swaar word.

mag jy deur Jesus bewaar word.

Groete van blomtuin tot groentetuin.

Blommie Rossouw…

Nog steeds gelukkig getroud of gelukkig nog steeds getroud – of so iets…