Die Positiewe Kookwater R5 koeldrankwinkel

Posted on

Dit gebeur nie aldag dat ek so ‘n lae prys kan adverteer nie:         

2 LITER KOELDRANK VIR R5. Kan jy nog onthou wanneer laas jy 2 liter koeldrank vir R5 gekoop het?  Ek dink dit was toe ek omtrent so ‘n meter korter was.  Die goeie ou dae…  Die pessimiste ruik dadelik lont.  Daar moet iets fout wees.  Stuur asseblief ‘n foto.  Wat is die vervaldatum?  Kom ek stel jou gerus. Dis heerlike koeldrank. Dit is nie Coke nie. Dit is nie ‘n ‘brandname’ nie. Dis ook nie sommer ‘n hierjy Jannie-verjaar-rooikoeldrank nie.  Tans het ons Coco-Pine,  suikervrye Passion Fruit en vele ander geure. Ons kry later ook Litchi in.  Die manne wat vir Mooi Wellington daagliks die toegangsroetes na Wellington rommelvry hou, kry elke oggend elkeen ‘n 2 liter koeldrank – ‘n koue as dit warm is en ‘n warm koeldrank as dit bietjie mistig en koel buite is.  So hier is die plan van aksie: Kom koop een van elke soort en toets dit.  Kom dan more terug met ‘n sleepwa.  Koop ‘n groot voorraad vir jou tuiningenieur en jou kinders en jouself.  Dit gaan ‘n lang warm somer wees.
Van koeldrank alleen sal jy nie kan leef nie.  So ons het ander lekker verrassings ook:

  • Moirs Soft & Moist sjokoladekoekmengsel R15.  Bak ‘n koek saam met jou kinders.  Dis so goedkoop, jy kan sommer ‘n paar bak en rondstuur in die buurt.
  • 500gr Moirs Bakpoeier R22.50.
  • Chicken Chunks 10 pakkies vir R79.  Die prys was verlede week nog R85 en die verskaffer het die prys laat styg.  Die nuwe verskaffer het egter die prys laat daal.  Geniet dit.
  • KIRI DIP & CRUNCH R17.50 vir 8 bakkies.  ‘n Kosblikwenner. By ander winkels sal jy R34 betaal vir 4 bakkies. 
  • Nibbly Bits beskuit R19.50.  6 soorte.  Man dis heerlik.
  • 1 kg YOGHURT R14.50.
  • Blaarslaaiplantjies R9.50 vir 6
  • Beetslaai R9.50
  • 750gr MUESLI R22.50
  • Vars Tamaties R9.50 per kg
  • GINGER ALE R6.50 per liter of 4 bottels vir R20 (vir die hardebaarde)

So slegte dinge gebeur, maar ONS SAL NIE OPHOU PLANNE MAAK NIE.  Ek lees die week van Lusindiso Malgas wat sy werk as pakker verloor het en daarmee saam ook sy inkomste.  Hy vermaak nou mense by verkeersligte in Kaapstad met baie oorspronklike posters soos:  “Let’s do Lunch… You pay”  en “Need petrol 4 my Porsche”.  Ons sal nie gaan le nie.  Moenie ophou aanhou nie.  Never Stop Starting.  

In Maandag se Burger lees ek hierdie oulike storie van ‘n meisie in die Ooskaap.  ‘n Inbreker het haar ma in hul huis beroof en haar geld en besittings gevat.  Hy vat haar toe na die hoofhuis om nog meer te steel.  Die dogtertjie was besig om TV te kyk toe die rower se hulle moet die TV ontkoppel – hy vat dit ook.  Die dogtertjie (van 5) het haar voet neergesit, voor die TV gaan staan en gese: Jy vat nie die TV nie.  Die daaropvolgende kabaal het die ander mense in die huis wakker gemaak, wat die ‘panick butten’ gedruk het en die rower verwilder het.  VATSO RACHELTJIE DE BEER.  DIE TOEKOMS VAN ONS VOLK IS IN GOEIE HANDE. So ‘n heldin verdien ‘n sleepwa vol 2 liter koeldranke.
Mag jy baie positiewe dinge raaksien die week.  Mag van die dinge ook positiewe goed wees wat jy laat gebeur. 

R5 groete

Dip&Crunch Rossouw

NS. Ek gaan nog my somerlyfie verloof met hierdie Dip&Crunch, maar wie’s bang?

Die beste raad vir die toekoms.