Bokke, Boere en Boervroue

Ek is lus vir sushi, (die Japanese soort – as die Bokke hulle Sondag opgerol het.) Ek kan nie wag nie vir Sondag se wedstryd nie.  By Kookwater het ons die heerlikste verversings – kyk gerus op ons aangehegde pryslys vir ons heerlike kase vir die verversings tydens die wedstryd.  Behalwe vir die lekker rugby in Japan, het ons darem baie dinge wat ons by die Japanese kan leer.  Respek vir 
jou medemens onder andere.  Een van die eerste dinge wat ons gehoor het, is dat alles werk, alles is betyds en mense doen moeite om die toeriste welkom te laat voel.  Sal dit nie lekker wees as ons ook bietjie van die ongeduld met mekaar omtslae raak en liewer glimlag vir die ou in die motor langs jou in spitstyd nie? Ek bly dink aan daai skakeling tussen gemeenskappe wat my ou grootworddorp, Prins Albert, gereeld aanpak.  Die tema is altyd: GROET IS ‘N MOET.

Dis lekker om al die tuiniers in die winkel te sien.  Ons blomplantjies (R9.50 per sespak) het uitgebrei na groenteplantjies (boerpampoene, skorsies, tamaties, ens) en ook kruie soos basiliekruid.  Kom plant bietjie jou eie groente en bring weer kleur in jou lewe.  Daar is tans pragtige vygies.  As Wellington se tak se voorraad opraak, ry gerus by Daai Kookwater Winkel in Newton aan.  Jy sal sommer van die pad af kan sien of hulle plantjies het.

Die VLV van Wellington het ‘n puik projek begin wat besig is om soos ‘n veldbrand te versprei deur die land.  Ons almal weet dat die boere swaar kry en dat die droogte ‘n mens moedeloos maak.  Die ‘Boks vir ‘n Boervrou’-projek het ten doel om skoenbokse met bederfgoedere vir boervroue oor die land heen by mekaar te maak en uit te deel om boere en boervroue weer moed te gee.  Maak gerus ‘n skoenboks vol met handeroom, seep, lekkergoed en produkte wat julle weet vroue eerste op sny as die geld moet gaan vir die koskoop vir die diere.  Ek weet sommer Kookwater se klante sal groot bydra vir hierdie projek.  Moenie vergeet dat die mans ook swaarkry nie – hulle kan ook maar bederf word. 

Die idee is dat die skoenbokse gevul en dan in bruin papier toegedraai word en met ‘n mooi kleurvolle lint om versier word.  Kontak gerus die Wellington VLV by 083 264 9834 om te hoor waar die bokse afgegee kan word.  Daar is vele optelpunte in baie ander dorpe ook.  Vind gerus uit wat naasta aan
jou is.  Baie dankie dat ek jou kan vra om hierdie projek te ondersteun.

By Daai Kookwater Winkel het ons hierdie week deur die proses gegaan om ‘n nuwe werker aan te stel.  Die oulikse CV was die een persoon wat 2 jaar ondervinding het as papsak operateur.  Ek dink heelwat van ons dorp se mense het ook hierdie tipe ondervinding.  

Mag jou week vol vriendelike mense wees (die ou in die spieel ook).  

Grasgroen Rugbygroete
Kaas Rossouw
aka no. 1 papsak operateur