Bierbrood, Mieliebrood, Botter, Uie – alles

Posted on

Dis lekker om aangename verrassings te kry.  Ek is mal daaroor. Dit het 2 keer in die laaste week met my gebeur.  Laat ek bietjie uitbrei.  Ons maak elke oggend die stuk sypaadjie tussen die Diemersfontein robot en die Shoprite robot aan ons kant van die pad skoon van papiere.  Die stuk bos op die robot by Diemersfontein het ‘n ongelooflike klomp rommel wat my al baie lank al pla.  Groot was my verbasing toe hierdie stuk bos verlede Do/Vrydag pragtig skoongemaak word – dit lyk of een of ander politieke party dit gereel het. Baie dankie. Dis die soort goed wat my aandag trek, nie lee beloftes nie.

Die tweede aangename verrassing was toe ek Sondag na kerk in my winkel instap (die weeklikse uitstappie  (strooptog) om die 2 studente se kosvoorraad aan te vul – biltong, popcorn en sulke stapelvoedsels).  Op die rakke sien ek toe ‘n hele paar produkte wat ek nie eers geweet het ons in die winkel het nie:

  • Mieliebrood,Bierbrood en ander soorte brode.  Vir R17.50 kan jy nou hierdie bestanddele kry en saam met die volgende braai die kollig steel met jou eie brood.
  • Jimmy’s slaaisous R19.50..  Hierdie een het ek van geweet – ek wou al laaankal graag Jimmy’s se souse in ons winkel aanhou.  Nou het ons.
  • Parmalat ‘Growth’ 1+ en 3+ MELK .  6 x 200ml vir slegs R18 (omtrent R6.90 vir 200ml in ander winkels).  Op Prins Albert in my grootword jare het ons nie hierdie groeimelk gehad nie – net Bokmelk.  Dis laat mens ook nogal groei.
  • Rhodes perskesap  6 x 200ml vir R21.
  • Steri Stumpies Sjokolade, Aarbei en Cream Soda R24 vir 6 x 200ml
  • BOS ystee R7.50 vir 500ml  (R14.99 elders) 3 geure
  • Uie R7 per kg.
  • Die pragtige skuimpies (Merinques) teen R15 verras my nog elke keer.  Ek kan nie glo dat iemand soveel moeite maak vir die prys nie.  Gesiggies, vissies en selfs seeperdjies.  Kunswerke.

Ek doen nie graag bemarking vir ander instansies nie, maar hierdie is een wat ek self gaan bywoon, want die ou mag maar sing.  Die Blackies van Hugenote Laerskool bring vir Jo Black Wellington toe op 26 Julie by Bergkroon.  Teen slegs R200 kan jy die ou baardbek persoonlik gaan kyk en luister.  Ek en Mammie sit voor in die koor.

Daar is vele wat gebeur die week.  Jy moet stem – jy kan maar laatslaap en dan later gaan stem of vroeg gaan stem en dan die res van die dag laagle.  Wat jy ookal beplan, STEM.

Sondag is die dag vir die moeders van die volk.  Braai, maak slaai, bak daai mieliebrood.  Maak dit ‘n spanpoging en verras die moeders.  Die minste wat jy kan doen is ‘n groot bos proteas vir die dames in jou lewe.

Mag jou week vol aangename verrassings wees.

Verkiesingsgroete

Voorinniekoorbydiestemlokaal Frans

Gaan maak jou kruisie