Mooi bly Mooi en Lekker bly Lekker

Posted on

Mooi bly mooi en lekker bly lekker.  Ons fokus hierdie week op albei.  Ons kry more weer vars proteas in en ook vars blomplantjies.  Die mooiste verrassing hierdie week is ook my persoonlike gunsteling blom – ORGIDIEË.  Daar is nou pragtige stringe orgidiee met tussen 7 en 8 blomme per string teen slegs R69 per string.  Die lekkerte van die blomme is dat hulle meer as 3 weke mooi bly.  Selfs langer as proteas.  Hierdie is ‘n pragtige geskenk vir jouself of iemand anders.  

In die LEKKER kategorie is daar Lindt sjokolade met ‘n verlaagde prys van R19.50. Lindt stafies (R9.50) en Lindt eiers (R25) is ook heerlik.   Die effens meer gesonde lekkerte is beslis die eerste vars aarbeie van die seisoen teen slegs R30 per bakkie.  Dit lyk my die kosmakers onder ons het nou agtergekom dat ander winkels meer as R60 per kg vra vir vars rissies soos Haberneros, Cayene, Thai en Jalepeno.  Kookwater hou nog steeds by R11 per kg. Dis vir my mooooiii.

Die eintlike mooi en lekker is om te sien as mense agter die skerms onbaatsugtig laaang ure insit om ander mense wat hulle nie eers ken nie veilig te hou.  Ek praat van die dames wat daagliks maskers maak om gratis weg te gee vir mense (groot en klein) wat dit nie kan bekostig nie.  Ons gee die lap en rek gratis en hulle maak dit kosteloos. Jeanine sny die lap, Amanda doen logistieke werk (sit in pakkies) en help ook saam met  Janine, Mara, Melandri, Tannie Queenie en haar span,  Elna en Merika om die honderde maskers te maak.   Hierdie is die ware helde wat ons land nodig het.  As jy dalk deel wil wees van hierdie heldegroep op watter manier ookal, stuur gerus ‘n sms of whatsapp aan 084 2334 899. 

Dis ook mooi om te sien hoeveel tydskrifte en boeke ons ingekry het om uit te deel aan die ouer mense wat vasgekluister is in hul huise.  Baie dankie vir elke tydskrif.  
Ek het ontstellende nuus gehoor die week:  Die Coca Cola fabriek gaan hul deure sluit.  Wel ek het dit sien kom.  Hulle ry mos al jare op Brandewyn se rug….
Pas jouself mooi op en volg die Superspar op Malmesbury se goeie raad:  Make someone smile today.

Lekker Groete

Mooi Rossouw (moenie lag nie, my vrou dink so…..  haar oe is nie meer so lekker nie)

Dans nou ‘n slag lekker, sommer op jou eie!